NP-van-Wyk-Louw

NP van Wyk Louw. Foto: Af.wikipedia.org

Willie Jansen van Rensburg van Moreleta Village skryf:

In die drama Die pluimsaad waai ver van NP van Wyk-Louw kom die verwysing na die bittereinders en die verraaiers dikwels voor. President Steyn en generaal Christiaan De Wet is die helde wat bereid is om tot die bitter einde die stryd voort te sit. Daarteenoor staan generaal Piet de Wet bekend as een van die verraaiers, nadat die Engelse onder meer die hoofstede ingeneem het.

Generaals Piet de Wet en Marthinus Prinsloo het nie die sinvolheid van voortgesette militêre stryd ingesien nie. Reeds teen die einde van Junie 1900 was die hoofstede van die Boererepublieke ingeneem en was die Britte in beheer van die totale infrastruktuur en administrasies.

Terugskouend ontstaan die vraag of die volksleiers met wysheid opgetree het deur burgers te beveel om voort te veg. Indien die leiers teen Julie 1900 bes gegee het, sou die sterftesyfer veel laer gewees het. Sou ’n staatsman met wye visie ingesien het dat tydige oorgawe die geleentheid tot redding van ’n volk en heropbou bied? Nie net heropbou van die fisieke nie, maar ook die geestelike en kulturele sy. Geen plase sou vernietig word nie en weinig burgers sou in krygsgevangenekampe beland.

Dit blyk dus dat die twee gawes van heldhaftigheid en insig nie noodwendig in een mens gesetel is nie. ’n Bittereinder is dalk nie ’n kritiese denker nie, terwyl kritiese denkers dikwels gebrandmerk word as verraaiers.

Die toewyding en geloof van presidente Kruger en Steyn en die heldhaftigheid van generaals Christiaan de Wet en Koos de La Rey word nie bevraagteken nie. Hul bydrae tot ons volkwees is kosbaar.

Van Wyk-Louw vergelyk egter die bittereinders met koppiges, en enkele verraaiers met verstandiges. Heeltemal futiel, maar sake in die land sou ná tydige oorgawe heeltemal anders gelyk het.

Hou die verloop van die Tweede Vryheidsoorlog en ons volk se geskiedenis vandag vir ons lesse in? Net soos ons ’n taalstryd aan die begin van die 20ste eeu gehad het, woed daar nou ook ’n stryd om die behoud van Afrikaans. Dieselfde gebeur met die onderwys van ons volk. Daar word ook ’n stryd gevoer op ekonomiese, arbeids- en ander terreine. Afrikaners moet hulself op elke lewensterrein verdedig.

Tans poog talle organisasies en groepe om op terreine soos politiek (Vryheidsfront Plus HNP, AVP, Front Nasionaal, VVK), arbeid (Solidariteit), landbou (AGRI SA, TLUSA) kultuur (FAK, Verkenners, Aksie Vrouekrag, Dames Aktueel, Orania Beweging, Pretoria FM), onderwys (AROS, BCVO) vir Afrikaners op te tree sonder om andere te benadeel.

Sommige maak gebruik van die ruimte wat die wetgewing en die grondwet ons bied. Hulle wend hulle na instellings van die owerheid soos die Nasionale Vergadering, openbare beskermer en die howe om vir Afrikaners op te tree. Hoewel nie altyd opspraakwekkend nie, word nieteenstaande teenstand, tog suksesse behaal, sonder prysgawe van geloof en taal.

Tog word sekere organisasies deur sommige Afrikaners as verraaiers bestempel.

Enkele organisasies wil niks met die huidige owerheid te doen hê nie. Hulle sien hulself as bittereinders, vermy diegene wat van die wetlike ruimte gebruik maak en beskou diegene wat owerheidsmiddele gebruik as vyande en verraaiers.

Etlike vrae kan hieruit voortspruit:

Watter hedendaagse organisasies het iets geleer uit die verloop van die Tweede Vryheidsoorlog en ons geskiedenis daarna?

Wie volg vandag die leiding van onderskeidelik Christiaan of Piet de Wet?

Is ’n bittereinder net koppig en is sommige verraaiers verstandig?

Wie is vandag die koppiges en die verstandiges?

Dit behoort tog duidelik te wees dat jy niks vir jou volk kan doen deur asketies te wees en jouself in ’n kasteel af te sonder nie. Sedert die bestaan vanaf die Boere-republieke tot vandag het koppigheid geen voordeel vir die Afrikaner meegebring nie – slegs hartseer, lewensverlies en armoede. Ons hoef nie onderling te veg nie. Gee ruimte aan mekaar en gee krediet vir suksesse wat behaal word. Die Afrikaner het wysheid en insig nodig.

Leave a Reply