Stephan Nel, Marius Harding, Ockert Muller, Dicky Junior van Rooyen en Joshua Scholtz in die Pretoria-Noord-landdroshof (18 Augustus 2017). Foto: Phillip Bruwer

Die borgtogaansoek van drie van die vyf mans wat in hegtenis geneem is in verband met die sogenaamde KFC-aanranding van Jacob Sono en sy vrou, Dudu Sono, is Woensdag in die Pretoria-Noord-landdroshof uitgestel.

Stephan Nel (39), Dicky Junior van Rooyen (21) en Joshua Scholtz (21) se borgtogaansoek is Woensdag weer in die hof hervat. Ockert Muller (20) is reeds vroeër op borgtog van R5 000 vrygelaat en Marius Harding (23) het sy aansoek om borgtog laat vaar weens ’n uitstaande lasbrief vir diefstal in ʼn onverwante saak in KwaZulu-Natal.

Die hof het voorleggings van Nel, Van Rooyen en Scholtz se verdediging aangehoor, waarna die saak tot Vrydag uitgestel is vir slotbetoë van die staatsaanklaer, Ronnie Sibanda, wat die aansoek teenstaan.

Landdros Motlhoki Rapulana sal na verwagting daarna bekend maak wanneer sy uitspraak in die borgtogaansoek sal lewer. Sy het reeds aangedui dat sy die besluit goed moet deurdink. Die vier bly in aanhouding.

Konst. William Tladi, ondersoekbeampte van die Sinoville-polisie, het Woensdag in die hof getuig ʼn gewelddadige openbare oproer sal moontlik volg indien borgtog aan die mans toegestaan word.

Lede van die ANC Vroueliga het sedert die begin van die verhoorproses buite die hof betoog. Tydens Woensdag se verhoor was lede van die Black First Land First (BLF)-groep ook in die hof.

“Is hierdie mense hier om morele ondersteuning aan die beskuldigdes te bied? Sommige van hulle dra plakkate wat lees ‘geen borgtog’. Het jy hulle gesien?” het Sibanda ʼn vraag aan Tladi gestel. “Jy het gesien wat buite [die hof] gebeur. Wat dink jy sal gebeur as die beskuldigdes borgtog toegestaan word?”

Tladi het geantwoord: “Daar kan gevegte ontstaan.” Hy het ook bygevoeg dat die lewe van die beskuldigdes moontlik in gevaar kan wees.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vroeër Woensdag buite die Pretoria-Noordse landdroshof betoog teen sogenaamde dubbele standaarde waarmee die organisasie sê rasvoorvalle in Suid-Afrika hanteer word. Die organisasie het gesê hy het besluit om na dié landdroshof op te ruk omdat “wit-op-swart-aanvalle deurlopend aan die groot klok gehang word, terwyl swart-op-wit-aanvalle grootliks geïgnoreer word”.

Lees alle vorige berigte oor die KFC-voorval op Maroela Media.

Leave a Reply