Pres. Jacob Zuma. Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS

Ná pres. Jacob Zuma die jongste mosie van wantroue in die parlement oorleef het, het ’n lang rits koerantopskrifte gelui dat dit nou weer “business as usual” vir Zuma is. Tydens sy een en meer as ’n half voltooide termyne as president het dié soort opskrifte egter dikwels gedien as die “reset”-knoppie om te beskryf dat ’n terugslag niks aan Zuma se styl sou verander nie.

Dit beteken ook hy leer nie die regte dinge uit die lesse nie. Hy het verskeie kere gespog dat hy eintlik goed as president vaar, en selfs ook gesê “niemand” sê vir hom wat hy verkeerd doen nie. So asof iemand wat struktureel naby die president in die stelsel van patronaatskap ingebind is, dit kan waag om sy mond oop te maak. Dis die eerste vorm van “business as usual”.

Trouens, ds. David Kuyler van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) skryf vandag in Netwerk24 dat die regering hom aan ’n tronkbende laat dink – ’n bende wat absolute lojaliteit opeis. Kuyler het 30 jaar ondervinding van werk in tronke.

Dit is baie duidelik dat daar heelwat ANC-leiers is wat die konstitusionele hof se uitspraak oor geheime stemming en LP’s se verantwoordelikheid om ooreenkomstig hul gewete te stem wil respekteer. Trouens, die topbestuur het formeel so besluit.

Tog brom Zuma steeds dat die “afvalliges” uitgesnuffel en gestraf moet word. Sy eie (tronkbende) se reëls moet voorrang bo die Grondwet en konstitusionele hof kry.

En dis nog een vorm van “business as usual”.

’n Derde vorm is om die een meesterplan ná die ander uit te rol om die ekonomie weer op dreef te kry, maar dat min of meer niks met die uitrol gebeur nie. “Business as usual” het selfs beteken dat ten minste sekere ministers planne kon beraam en ten uitvoer bring wat die Nasionale Ontwikkelingsplan in die hart skiet, soos min. Davis se verskerpte kontroles oor mikro- en kleinsake-ondernemings wat dié ondernemings burokraties doodsmoor.

Beteken dit dat die land maar doodgerus kan gaan slaap oor “planne” waarin Zuma sentraal staan, soos “radikale ekonomiese transformasie”, die bevegting van “witmonopolie-kapitaal” en die onteiening van grond sonder vergoeding? Dat daar niks hiervan sal kom nie?

Al meer “kandidate” wat aanspraak maak daarop om in Desember as Zuma se opvolger as president van die ANC aangewys te word, maak nou soortgelyke geluide, en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma bepleit dit openlik.

Gaan “business as usual” ook “onder nuwe bestuur” beperk bly tot gevaarlike, los bekpraatjies, wat beleggers en graderingsagentskappe baie senuagtig maak, maar tog onuitgevoer in die lug bly hang?

Of gaan Zuma se opvolger erns maak daarvan om van hierdie planne, of planne van sy eie, tot uitvoer te bring? Of het die amptenary wat veronderstel is om die planne en ideale te verwesenlik al so in sy gemaksone van niks doen en stagnasie vasgeval dat dit besonder moeilik is om iets konkreets te laat gebeur?

Trouens, in ʼn stadium was dit “gebruik” van Zuma en sy ministers om nuwe planne aan te kondig as “business as unusual” (saam met “doing things differently”, wat daarop gedui het dat hulle besef het die “usual” beteken dat daar nie uit die wegspringblokke gekom kan word nie. Die “unusual” het egter net so min geslaag, en sedert 2012 is dié “slimmigheid” nie meer so dikwels ingespan nie, want dit het die geneigdheid om te boemerang.

Hoe stagnerend die “business as usual” kan wees, blyk uit ’n artikel van Luoyole Mkentane in IOL op 3 November verlede jaar. Dit klink of hy dit vandag kon neergepen het:

“Embattled President Jacob Zuma appears unfazed as the noose tightens around his scandalous presidency.

“Zuma, who is facing sustained clamour to step down, is leading a delegation of ministers to the inaugural session of the South African-Zimbabwe Bi-National Commission in Harare.

“Political analyst Ralph Mathekga said Zuma was caught between ‘a rock and a hard place because he has to maintain business as usual (approach), appear strong, certain and confident’.”

Vandag, so lyk dit egter, skyn dit asof Zuma ’n tipe gemaksone gevind het tussen die duiwel en die diep blou see – kritiek en druk op Zuma wat ander sou laat knak, is soos water van die eend se rug.

Leave a Reply