Pont Max (Foto: Thomas Dreyer)

Thomas Dreyer en sy vrou, Retha, is besig met ʼn reis (met ʼn baie beperkte begroting) deur Europa. Hulle is oorspronklik van Pretoria.

Deur Thomas Dreyer

Ons staan voor die reusagtige St Petruskatedraal in Rome. Op die plein stap honderde besoekers rond. Toergroepe loop soos skape agter hulle toerleiers aan. Rondom ons staan 285 reuse marmerkolomme vier-vier langs mekaar in ‘n semi-sirkel.

Bo-op die kolomme se dak staan 56 beelde van heiliges wat stilswyend toekyk. Voor die kerk is twee reusebeelde van die apostels Petrus en Paulus.

Agter hulle, bo-op die katedraal se dak, in ‘n ry, is beelde van Christus, die apostels en Johannes die Doper wat goedkeurend toekyk. Deur die eeue was dit een van die Katolieke Kerk se boustene: “Beelde is die boeke vir die leke.”

Die St Petruskatedraal is gebou deur en tot ere van Pontifex Maximus (pous) Paulus die Vyfde. Voor op die kerk staan in reuse Latynse letters dat hy die prins van die apostels, ‘n Romein en die hoof Pontifex is.

Binne die kerk, wat jou oorweldig deur sy grootte en massiewe beelde van apostels, pouse en heiliges, staan in sewe voet groot letters onder die indrukwekkende koepel van Michelangelo, dat die Pontifex die verpersoonliking van die apostel Petrus is. Hy is die middelpunt van al die glorie, die goud, die kunswerke en versierings, die gekruisigde Jesus, die opgestane Maria en al die heiliges wat hier begrawe is en vereer word.

In antieke Rome was die “Pontifex Maximus” die hoof van ‘n groep heidense priesters genoem “pontifices”. Hulle was toesighouers oor die heidense priesters wat in die tempels die Romeinse afgode, Jupiter en sy vrou Juno, Neptunus, Mars, Venus, Minerva en vele ander, gedien het. In die tempels is beelde vir die afgode opgerig en het die priesters elke dag vir hulle offers gebring.

Pont Max (Foto: Thomas Dreyer)

Met die Edik van Milaan in 313 n.C. het Keiser Konstantyn die Christelike godsdiens gewettig na eeue van vervolging. Skielik was dit voordelig om ‘n Christen te wees en het die heidense priesters ‘n Christelike kruis op hulle kleed vasgewerk. In die tempels het hulle die heidense beelde vervang met Christelike beelde. Partykeer het hulle sommer net die beeld se naam verander.

Tempels het “kerke” geword. Die “Pontifex Maximus” het die pous geword en die “pontifices” die kardinale. Vir sy kerklike gesag en posisie het die Pontifex Maximus bloot verklaar dat Petrus die eerste Pont Max in Rome was en dat hy Petrus se opvolger is.

Die heidense offers het hulle met die “mass” vervang. Die Pont Max en die “pontifices” het bloot verklaar dat die brood en wyn met die nagmaal werklik in Jesus se liggaam en bloed verander. Soos in antieke Rome bring die priesters elke dag offers in die tempels met die rituele “mass”.

Stap jy die St Petruskatedraal, of enige ander Roomse kerk in, is jy omring deur Christelike beelde en reusagtige skilderye, die “boeke vir die leke”. Die boodskap is orals dieselfde: die pous is Pont Max, Jesus is gekruisig en Maria lewe.

Jesus word oorheersend uitgebeeld as ‘n klein babatjie, die gekruisigde of dooie op sy ma se skoot. Maria is die pragtige, jong, lewende, opgestane moeder en gekroonde in die hemel. In 1854 verklaar die Pont Max dat Maria sondeloos gebore is en in 1950 dat sy na die hemel opgevaar het.

Heiliges, vernames en rykes uit die kerk se geskiedenis word dikwels saam met Maria uitgebeeld. Of by die kruisiging van Jesus. Of dat hulle by was toe Maria opgestaan het uit die dood, opgevaar het na die hemel waar sy deur Jesus gekroon is. Jupiter se Juno.

Daagliks stap leke wêreldwyd by hierdie tempels in en gaan bid by die beelde en grafte van die heiliges, vernames, en rykes. Hulle raak daaraan, kniel daarvoor en bring “offerte”.

En hulle sien en verstaan die boodskap wat indrukwekkend en oorweldigend gebring word baie duidelik: die pous is Pont Max, Jesus is gekruisig en Maria lewe.

Lees alle vorige rubrieke oor Thomas en Retha Dreyer op Maroela Media.





Leave a Reply