teerpad-pad-paaie-platteland

Kan plastiekpaaie dalk antwoorde bied op van die vraagstukke wat SA teister? Foto: Nextvoyage/Pexels.com

Deur Jeannette Gnade

’n Voorstel deur die Demokratiese Alliansie in die Oos-Kaap dat ’n loodsprojek begin moet word om die lewensvatbaarheid van plastiekpaaie te toets, is luidkeels deur die ANC afgeskiet. Lede van die land se regerende party kan net nie insien dat daar ’n toekoms bestaan vir paaie wat van herwinbare plastiek gemaak word nie.

Die Oos-Kaap se agterstand in padinfrastruktuur beloop meer as 100 miljard rand en daar is nie genoeg geld in die provinsiale koffers nie. ’n DA-beheerde munisipaliteit in Gauteng het hom intussen bereid verklaar om ’n stuk pad uit plastiek te vervaardig as ’n toetsprojek vir ’n skoner omgewing, die langer lewensduur van paaie en les bes geen slaggate nie.

Plastiekpaaie word reeds in Indië, Nederland en ander plekke in Europa gebruik, en Brittanje toon groot belangstelling vir die tegnologie.

Teer is afkomstig van ru-olie en is dus nie omgewingsvriendelik nie. Asfalt of teer is verantwoordelik vir twee persent van die wêreld se koolstofvrystellings. Dit is ook moeilik om teerpaaie te herstel omdat die teermengsel bo-op, asook die betonlaag daaronder, opgekap moet word en tot groot verkeersontwrigting lei.

Plastiekpaaie word so gebou dat dit ineenskakel en kan stuk-stuk teen minder tyd en koste vervang word. Tog is dié paaie se lewensduur drie keer langer as dié van teerpaaie. Plastiek het verskeie chemiese en fisiese eienskappe en kan gebruik word om paaie meer weerbaar teen uiterste weerstoestande te maak.

’n Nederlandse maatskappy het ’n model voorgestel waarvolgens plastiekpaaie met ʼn spasie binne-in gebou word waar waterpype en elektriese verbindings aangebring kan word. Die oop ruimte kan ook gebruik word vir natuurlike verhitting, wat keer dat paaie toesneeu of sal help dat reënwater vinniger opdroog. Herstelwerk aan die krag- en waterinfrastruktuur in die oop spasies kan vinnig gedoen word omdat net ’n stukkie van die pad verwyder moet word.

’n Belangrike oorweging om van teer na plastiek oor te slaan is die tonne plastiek wat by stortingsterreine beland en vir opvulling gebruik kan word. Dikwels lek besoedelingstowwe in die omliggende grond terwyl plastiekverbranding kan lei tot die vrystelling van kweekhuisgasse soos koolstofdioksied. Mikroplastiese afval is ook besig om die oseane te besoedel.

Modulêre plastiek is makliker om mee te werk as teer. Selfs paaie wat gebou word met ʼn mengsel van plastiek én teer, absorbeer nie water nie, is meer buigsaam, daar ontstaan minder groewe daarin en minder herstelwerk is nodig. Padoppervlaktes is gelyker en aborbeer klank beter.

Ongeveer een miljoen plastieksakke is nodig om ’n stuk plastiekpad van een kilometer te bou, en die boutempo is 70 persent vinniger as die aanlê van ’n teerpad. Is dit nie tyd om kreatief te dink nie?

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar

Leave a Reply