Argieffoto: Don Mcphee/Guardian

Die onlangse besluit van ses openbare skole om nie teen die uitspraak oor godsdiens in skole te appelleer nie, het opnuut vrae laat ontstaan oor hoe dié praktyke in die toekoms in skole gaan uitspeel nadat talle ander skole sedertdien dreigbriewe van die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie gekry het.

Die hof het vroeër beslis openbare skole kan steeds voortgaan met godsdiensbeoefening, maar dat ’n enkele geloof nie tot uitsluiting van ’n ander bevorder of beoefen mag word nie.

Intussen het Hans Pietersen, voorsitter van die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie, wat die saak teen die ses skole gebring het, dit in die media duidelik gemaak dat hy sy bes gaan doen om elke skool met ’n uitsluitlik Christelike etos aan te vat.

Volgens Pietersen voer hy al ’n nege jaar lange stryd om te sorg dat skole hulself nie met een spesifieke geloof identifiseer nie.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het gesê hy is tevrede met regter Willem van der Linde se bevel, terwyl die burgerregte-organisasie AfriForum steeds van mening is dat ’n gemeenskap moet kan besluit oor die godsdienstige etos van ’n skool. Dié etos moet uitvoerbaar wees sonder om ander leerlinge uit te sluit of te benadeel.

Ingevolge die bevel maak die Grondwet voorsiening vir godsdiensbeoefening in skole, maar mag een geloof nie bo ’n ander bevorder word nie. Die uitgangspunt van die Grondwet en ander beleide is dat geloof op gelykwaardige basis beoefen moet word en dat bywoning vrywillig moet wees. Die klem is ook op godsdiensverdraagsaamheid en die viering van diversiteit. Die vraag is nou tot watter mate mag skole wat doen?

Fedsas meen die uitspraak het meegebring dat verskeie skole wel aanpassings aan hul beleid en praktyke sal moet maak om aan die bevel te voldoen.

Met die houding en ingesteldheid van iemand soos Pietersen, wat geen geheim daarvan maak dat hy sekere skole met valkoë dophou nie, bestaan die gevaar egter dat skole en onderwysers so uitgelewer en blootgestel kan voel, dat godsdiensbeoefening heeltemal afgewater kan word.

Dit is om dié rede dat ouergemeenskappe met groter erns moet kennis neem van veranderende omstandighede wat nie noodwendig in die beste belang van hul kinders is nie. Die plek van godsdiens in die openbaar is wel met die hofuitspraak bevestig, maar die gedagte dat skole tog geteiken kan word indien die toepassing van hul godsdienspraktyke nie aan die verwagtinge van enkele individue kan voldoen nie, is ook kommerwekkend.

Godsdiens kan nie in vrees beoefen word nie. Dit kan ook nie halfhartig gedoen word nie. Daarom sal ouers wat sterk oor dié saak voel, opnuut verantwoordelikheid moet neem om godsdiensonderrig en -beoefening deel van hul kinders se opvoeding te maak. En die plek waar dit eerste moet begin, is in die ouerhuis.

Dalk het dit tyd geword om stil te word en weer oor die woorde van Josua te besin:

“Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: óf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, óf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die Here dien” (Jos. 24:15).

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar

Leave a Reply