Die VF Plus is vandag reg bewys oor krag deurdat NERSA die kragtariewe wat deur die Tshwane-metroraad ingedien is, verwerp het en eerder die voorleggings van die VF Plus, AfriForum en die Elektrisiteitherverkopers-assosiasie van Suid-Afrika (Erasa) aanvaar het.

Volgens NERSA mag die stad die tariewe met 13.07% verhoog (vir die 2019/20 finansiële jaar), gegrond op die vorige jaar se struktuur (2018/19), en nie volgens die nuwe voorgestelde struktuur nie.

Die aankondiging deur NERSA word ook as ‘n reuse oorwinning vir verbruikers beskou. Die raad wou ‘n totaal nuwe ingrypende struktuur implementeer wat ‘n vaste fooie van R56 vir alle verbruikers sou insluit asook spesiale winter-tariewe.

Die ander groot strukturele verandering is die wegneem van die 2 kategorieë of kerwe wat die metroraad wou implementeer en die behoud van die bestaande 4 kategorieë of kerwe waarvolgens krag aangekoop word. Die nuwe struktuur sou klein-verbruikers, wat tipies laer-inkomste groepe en pensioenarisse insluit, die meeste raak.

NERSA het verder ook aangekondig dat ‘n tribunaal aangestel gaan word om te verseker dat die metroraad aan bepaalde wetgewing voldoen en verbruikers wat negatief geraak is, krediete ontvang.

Die VF Plus sal verbruikers in hierdie proses ondersteun om te verseker dat alle krediete binne ‘n redelike tyd terugbetaal word.

Die VF Plus gaan ook met sy regspan konsulteer om seker te maak of dit wettig is om die nuwe verhoogde tarief te implementeer aangesien die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) munisipaliteite en metrorade slegs toelaat om tariewe jaarliks te wysig.

-Awie Erasmus: VF Plus-raadslid en voorsitter van die openbare rekeningekomitee – Tshwane-metroraad


Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.