Die Universiteit van Pretoria is besig om sy koshuisname, wat merendeels Afrikaans is, te verander omdat dit in die pad staan van transformasie en inklusiwiteit.

Huis Olienhout, Huis Madelief, Huis Boekenhout?. Dit is van die koshuise aan die Universiteit van Pretoria wat voor volgende jaar hul naam moet verander.

Volgens die universiteit se kommunikasie aan studente moet alle koshuisname teen volgende jaar verander na name wat nie “deur een taal of ’n ander oorheers word nie”.

“Die doel is om studente te laat tuis voel in die koshuisomgewing en om struikelblokke wat in die weg staan van studente se aanvaarding van en waardering vir mekaar uit die weg te ruim,” sê Rikus Delport, UP-woordvoerder.

Hy sê die idee is nie om van alle Afrikaanse koshuisname ontslae te raak nie, maar om meertaligheid en diversiteit van kultuur te bevorder.

Koshuise aan die universiteit het tradisioneel Afrikaanse boom- of blomname gekry soos Jasmyn, Madelief, Mopanie en Boekenhout. Koshuise word lank reeds as Boekenhout House of Mopanie House op Tuks se webtuiste aangedui, maar die universiteit wil skynbaar meer omvattende veranderings aan die koshuisname hê.

In ’n brief van die universiteit word koshuise aangesê om voor 19 Julie drie voorstelle vir name vir elke koshuis in te dien, sodat die nuwe name gebruik kan word vir die verkiesing van die 2019-huiskomitees later vanjaar.

Doel is om diversiteit van kultuur te bevorder.

Volgens die universiteit se beleid mag geen koshuis na ’n persoon, lewendig of dood, vernoem word nie en moet dit verteenwoordigend wees van Suid-Afrika se diverse kulture.

“In die proses van herbenoeming van koshuise mag geen taal ’n ander domineer nie. Dus mag nie net Engelse, Afrikaanse of Noord-Sotho-name gebruik word op so ’n manier dat dit ander tale domineer nie,” lui die brief.

Henk Maree, koördineerder van AfriForum Jeug, sê hulle het die afgelope maande verskeie klagtes van Tuks-studente ontvang oor die universiteit se naamplanne.

’n Inwoner van die manskoshuis Maroela sê hy weet nie van ’n enkele persoon in die koshuis wat wil hê die naam moet verander nie. “Maar veral ons wit studente is bang om iets te sê, ingeval ons as rassiste uitgekryt word.”

Hy sê die koshuis het hard gewerk om ’n goeie reputasie op te bou, wat nou daarmee heen sal wees as die naam verander.

’n Oud-Tukkie en oudlid van die universiteitsbestuur sê die universiteit maak ’n “groot fout” deur koshuise se name te verander. Hy het op voorwaarde van anonimiteit met Rapport gepraat.

“ ’n Bepaalde karakter, etos of trots word met tyd aan ’n universiteit geskep. Só het die koshuise oor dekades ’n bepaalde tradisie opgebou, waarop wit én swart studente trots is.”

Maree meen dit is geldmors om koshuise se name te wil verander. “Party studente kan nie handboeke bekostig nie, maar die universiteit wil geld aan naamsveranderings bestee, omdat die name van plantegroei kwansuis teen transformasie indruis.”

Thabo Shingange, lid van die studenteorganisasie Sasco by Tuks, sê ’n koshuisnaam is simbolies van bepaalde waardes en die geskiedenis van koshuise, al is dit name van blomme.

“Hierdie waardes en geskiedenis sluit bepaalde rasse uit, daarom is dit belangrik dat name verander word.

“Maar die universiteit sal die diepgewortelde kultuur van uitsluiting in koshuise ook moet aanpak as hulle werklik transformasie wil bewerkstellig.”

Delport sê nuwe name sal vir goedkeuring aan die hoofbestuur voorgelê word, waarna dit oorweeg sal word binne die breër raamwerk van alle koshuisname.


Leave a Reply