Seuns aangerand, besteel toe hul Pokémons gaan jag
Twee laerskoolseuns is Saterdagmiddag aangerand en van twee selfone besteel toe hulle in Pretoria se Moot-gebied geloop en Pokémons vang het.
Een van die seuns se ma, wat verkies om anoniem te bly om die seuns se identiteite te beskerm, het Maandag aan Maroela Media gesê die seuns, onderskeidelik 12 en 13 jaar oud, het Saterdagmiddag gaan stap toe hulle omstreeks 16:30 aangeval is.
“Hulle was naby die kerk op die hoek van Louis Trichardstraat en 24ste Laan in Rietfontein toe hulle agterkom twee mans volg hulle te voet, met ʼn rooi Ford wat in die straat agter hulle aanry. Die volgende oomblik sê een van die mans: ‘Hey guys,’ waarna een van die aanvallers my seun se maat met sy arm in ʼn wurggreep beetgekry en sy foon afgeneem het,” het die ma gesê.
Haar seun het aanvanklik probeer om hom te verset, maar het die foon wat hy by hom gehad het, wat ook aan sy vriend behoort, laat gaan nadat die verdagte hom m…