Levy Mosenogi, die hoofdirekteur van beplanning by die Gautengse departement van gesondheid. Foto: ANA

Die trane het Woensdag gevloei toe die hoofdirekteur van beplanning by die Gautengse departement van gesondheid om verskoning gevra het oor die oorplasing van Esidimeni-pasiënte na NRO’s wat tot die dood van 118 psigiatriese pasiënte gelei het.

Levy Mosenogi het aan die arbitrasievoorsitter, adjunkhoofregter Dikgang Moseneke, gesê hy probeer sy bes, maar daar lê ʼn massiewe taak voor hom. “Dit was moeilik vir my. Ek wil jammer sê aan almal wat geraak is. Ek aanvaar ek het mense seergemaak. Ek het met die families gepraat, maar hulle het op my geskree en ons kon mekaar nie vind nie. Ek vra om verskoning namens myself, my kollegas en die departement van gesondheid,” het hy gesê.

Families van die oorledenes het hardop gesnik terwyl Mosenogi gepraat het. “Ek weet julle moet steeds genees. Ek moet self ook nog genees.”

ʼn Emosionele Mosenogi het ʼn beroep op die ANC gedoen om te verseker dat gekwalifiseerde en ervare gesondheidskenners in plek is om die departement van gesondheid te bedryf, ʼn departement wat hy as “kompleks” beskryf het.

“As senior staatsbeamptes moet ons die waarheid praat. Kan administrateurs, met ander woorde tegnokrate, asseblief toegelaat word om hul werk te doen en politici die toesigwerk doen,” het hy gesê.

Mosenogi het vroeër gesê hoewel sy adjunkprojekbestuurder geskors is, is daar geen dissiplinêre prosesse teen hom ingestel nie. Hy het ʼn span van 20 mense vir Esidimeni gelei en beklee steeds die pos in die provinsiale departement.

Die gesondheidsombudsman het vroeër vanjaar in ʼn verdoemende verslag bevind die 118 psigiatriese pasiënte is dood nadat hulle vanaf Life Esidimeni na ongelisensieerde NRO’s oorgeplaas is. Die pasiënte is onder meer dood aan verwaarlosing en ondervoeding.

Qedani Mahlangu, die voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, het bedank kort voordat die verslag bekendgestel is. Sy het vroeër gesê ʼn tekort aan geld het die oorplasing van die pasiënte genoodsaak. Die hoof van die departement, Barney Selebano, is geskors.

Moseneke het Woensdag aan Mosenogi gevra wat geword het van die ander beamptes in sy span en die mense wat daaraan gewerk het om die pasiënte oor te plaas. “Dissiplinêre prosesse is teen die meeste van die spanlede ingestel. Die direkteur van die Pretoria-gebied is na Ekurhuleni oorgeplaas. Hy het appèl aangeteken en gewen. Geen ander stappe is teen die ander beamptes gedoen sover ek weet nie.”

Hy het gesê daar was geen ontlontingsessie of assessering van wat gebeur het nie. “Nadat die HOD geskors is en die LUR bedank het, was die moraal baie laag. Nuwe leierskap het ingekom, maar die werksverhoudinge was nie goed nie… Ek dink iemand moes ons almal ten minste bymekaargekry het en geassesseer het wat met die Esidimeni-projek gebeur het, maar dit het nie gebeur nie. Ons het nie met mekaar gepraat nie.”

Leave a Reply