JB Strydom is Maandag helder oordag in die parkeerterrein van die Menlyn Maine-winkelsentrum doodgeskiet.

Strydom (44), wat etlike jare lank ’n insleepdiens-onderneming in Kempton Park bedryf het, was net vir ’n kort besoek in Suid-Afrika was nadat hy onlangs na Brittanje geëmigreer het. Hy is in die parkeerterrein van die Menlyn Maine-winkelsentrum tromp-op in die bors geskiet toe hy glo vir ’n vriend in die bres probeer tree het.

Volgens inligting ontvang was Strydom by die sentrum om ’n vriend te ontmoet. ’n Woordewisseling het uitgebreek tussen dié vriend en ’n ander man wat uiteindelik vir Strydom geskiet het.

Cedric Martel, eienaar van Le Martel Security, wat by die sentrum was vir ’n vergadering sê hy het ook die stryery gehoor op die vêrste punt van die parkeerterrein.

Volgens beriggewing van Netwerk 24 was daar twee anonieme ooggetuienis wat gesien het hoe die man geskiet is deur ’n “man met donker hare en ’n lang poniestert”. Albei het ook die stryery gesien, maar kon nie mooi uitmaak waaroor dit gaan nie.

’n Veiligheidswag wat in die parkeerterrein aan diens was, het vertel hoe daar nadergestorm is om Strydom te help.

Hy is in ’n bakkie van Fidelity-sekuriteit gelaai om met hom hospitaal toe te jaag, maar is dood nog voordat die bakkie by die parkeerterrein kon uitry.

Volgens Martel het die skieter die parkeerterrein probeer verlaat, maar hy is deur ander veiligheidswagte voorgekeer.

“Die man het self sy vuurwapen aan die polisie oorhandig toe hulle daar aankom en is deur die polisie weggeneem,” sê Martel.

Volgens die voorlopige polisieondersoek was Strydom saam met twee ander mans by die sentrum toe die stryery plaasgevind het.

Brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die verdagte het tydens die onderonsie na sy voertuig geloop, waarna hy glo met ’n vuurwapen na die groep teruggekeer en die man wat die situasie probeer ontlont het, geskiet het.

Peters het bevestig daar is beslag gelê op die vuurwapen.

Na verwagting sal die verdagte vandeesweek in die landdroshof in Pretoria op ’n aanklag van moord verskyn.

Strydom word oorleef deur twee susters, ’n broer, sy vrou en drie kinders.


Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.