Polisielede wat ‘n bende transitorowers gejag het, het ‘n Pretoriase huiseienaar doodgeskiet toe hulle glo op die verkeerde huis toegeslaan het, het TimesLive berig.

Nóg mense, glo ‘n polisieman wat wou help en drawwers, is na bewering gewond in die insident in Kilnerpark, volgens die berig in TimesLive.

Alet van der Walt het vroeër berig die Valke het Donderdagaand saam met lede van die polisie se taakspan en misdaadintelligensie drie vermeende transitorowers in hegtenis geneem.

Kapt. Ndivhuwo Mulamu, die Valke se woordvoerder, sê die drie is in hierdie stadium hul hoofverdagtes in verband met die onlangse vlaag van transitorooftogte.

Die ondersoek is nog aan die gang, so hulle sal eers Vrydagoggend – wanneer hulle die verdagtes se identiteitsnommers bevestig het – kan sê of hulle aan enige ander misdade verbind word. Daar was die afgelope week vyf transitorooftogte in Gauteng, terwyl rowers ook Donderdagmiddag laat ’n geldwa buite Barberton in Mpumalanga beroof het.

‘n Spesiale taakspan is op die been gebring om die transitorowers te vang. Dit sluit onder andere lede van die Valke, misdaadintelligensie en taktiese reaksie-eenhede in. Dit vorm alles deel van ‘n multidissiplinêre, inligting-gedrewe poging om sulke aanvalle te beveg.

Mulamu sê die optrede is voorafgegaan deur samewerking tussen verskeie eenhede waartydens heelwat inligting oor ’n beplande transitorooftog aan die lig gekom het. Danksy dié inligting kon die Valke, asook lede van die polisie se taakspan en eenheid vir misdaadintelligensie, op ’n huis in Queenswood, Pretoria, toeslaan.

Die verdagtes het op die polisie geskiet. Twee van die drie mans is gewond en is in die hospitaal onder polisiebewaking.

Mulamu sê daar is nie enige plofstof by die mans gevind nie.

Die Valke verwag om binnekort nog mense in hegtenis te neem.


Leave a Reply